CA SPARTANE RUGBY

Wedstryde | Rugby Kalender | Rugby Ere-Rol | Rugby Ere-Kleure Rol | Speler van die week

 

Geagte speler en ondersteuner

Baie welkom en baie geluk om deel van CA Spartane Rugby te wees, dit is voorwaar 'n groot eer!

Vir 2012 het ons 'n paar rugby doelwitte wat ons as die CA Spartane wil bereik en een van hulle is om 'n supergroep rugbyspelers
saamtetrek en aan ons tweede Carlton Liga 3 en Carlton Liga 4 rugbykompetisie in Pretoria deel te neem.

As die CA Spartane is dit vir ons 'n groot eer om aan die Carltonliga deelteneem want dit is een van die oudste en mededingendste
rugbyligas in die land met 'n ryke rugbygeskiedenis wat al baie Blou Bul en Springbok rugbyspelers opgelewer het.

 

Dit is die tweede keer in ons instansies se bestaan (2000) dat CA 'n rugbyspan het wat aan 'n liga kan deelneem en hiervoor moet ons die Tegniese Universiteit van Tswane (TUT) bedank. Mnr. Jimmy Watt (Rugby Direkteur TUT) het ons die geleentheid gegee om in ons eie truie, onder die vaandel en as 'n volwaardige span van TUT aan die Carlton se 3de en 4de ligas deelteneem. Ons as CA is baie trots op TUT se rugbygeskiedenis; TUT speel vir die afgelope 4 jaar Varsitybeker en het al verskeie kere die Carltonbeker verower; verder het TUT dan ook as wenners van die gesogte Carltonbeker die Blou Bul streek by die Nasionale Klub kampioenskappe verteenwoordig. TUT is 'n rugby sukses en die CA Spartane is dankbaar en trots om 'n klein rugby rolletjie in TUT se uiterse suksesvolle rugbygeskiedenis in 2012 te kan speel.

Die CA Spartane het sy ontstaan te danke aan Mnr. Arno Grobbelaar (CA Dosent en Rugby afrigter) wat die behoefte onder CA studente ientifiseer het om rugby vir hulle eie instansie te speel. CA loop oor van rugbytalent maar verloor jaarliks hul eie pragspelers aan ander klubs of universiteite omrede CA geen span of geleentheid gehad het om hul eie instansie in 'n liga of kompetisie te verteenwoordig het nie. In die verlede het CA rugbyspelers opgelewer wat vir ander klubs gespeel het en dan Blou Bul 7's of Amateur Blou Bul-kleure vir daardie klubs verwerf het, terwyl ingeskrewe studente was vir CA. Daardie dae is nou in die verlede en nou kan CA se eie studente vir hulle eie CA Spartane speel en so met die louere wegstap as trotse CA studente. Go CA Spartane!

In Julie 2010 het die CA Spartane die eerste keer saamgetrek, met 'n nuwe kenteken (Spartane helm) en 'n splinternuwe rugbytrui om voorteberei vir die jaar se herdenking van CA se 10de bestaansjaar. Op die dag, 1 September 2010, sou daar om die Prof. Ernst Kruger wisseltrofee meegeding word teen 'n Amateur Blou Bul 0/19 span van die Blou Bul Tukkies Rugby Akademie. Hierdie wedstryd het ook nie op die dag teleurgestel nie, so ook nie die nuwe CA Spartane nie, wat die wedstryd uiteindelik 29 – 26 teen 'n baie goeie Blou Bul Tukkies Akademie rugbyspan gewen het.

Vir 2012, sal een van ons eerste rugby doelwitte wees om die USSA-rugbyweek gehou by Wits bytewoon en daar verder te presteer. Die jaarlikse USSA-rugbyweek bepaal die volgende jaar se Varsity Cup en Varsity Skildspanne (Top 13 spanne; 8 Varsity Cup en 5 Varsity Skild) en ons toekomsvisie is om van CA 'n rugbykrag te maak. Die klein treetjies wat ons verlede jaar reeds daartoe gegee het, het hierdie jaar 'n groot sprong geword na ons uiteindelike droom. Die tyd is ryp dat ons trots by die CA Spartane lê en ons dit begin wys met ons rugby prestasies. Slegs ingeskrewe CA studente kan vir die USSA-rugbyweek oorweeg word. Die tyd is nou, ondersteun die CA Spartane!

Elke dag versprei ons CA trots tussen al ons studente en rugbyvriende wat by CA studeer wat gretig is om vir die CA Spartane te speel. CA is in 'n unieke posisie en as 'n tersiêre instansie staan ons skouer aan skouer met al die "groot" universiteite in Pretoria. CA is 'n oop "rugbyklub" en is almal welkom om deel aan die CA Spartane te hê. As 'n span onder TUT se vaandel kan ons spelers ook in ons streek, die Amateur Blou Bulle verteenwoordig of vir selfs vir TUT uitdraf.

Kom ondersteun die CA Spartane, wees trots op die CA Spartane, speel en wen vir die CA Spartane! Laat ons beter, beter wees as hulle beter! Laat ons hierdie jaar nog trotser wees op die CA Spartane, weerspieël dit ook altyd en soos altyd ook in al ons ander CA sportkodes.

Van julle spelers wat die uitdaging nou aanvaar, kom teken jou naam in ons "committed CA Spartan"-register; vir die res van julle, sien julle volgende jaar! Onthou dit wat ek altyd sê, "dit is altyd beter om te speel in 'n CA Spartane wenspan!"

CA is 'n oop-rugbyklub, bring jou vriende saam na ons vyftienman rugbyoefeninge toe; die oefentye is Dinsdae en Donderdae, 16h45 tot 18h00, by die DENEL (Kentron) velde.

Sterkte op die rugbyveld, mag jy al jou rugby ideale verwesenlik; droom groot!

Net soos die Spartane van ouds het ons 'n klein groepie studente en spelers, maar dit maak nie ons wil om te presteer minder gretig nie. Soos die Spartane van ouds het ons ook 'n groepie elite rugbyspelers wat weet hoe dit voel om teen 'n oormag optestaan en te oorwin. Ons is Sparta!

 

         Kliek hier vir meer CA Spartane rugby foto's

 

Oefentye/Oefenvelde:

Oefeninge vind plaas Dinsdae en Donderdae (16h45 – 18h00) by die Denel Sportgronde. Sommige Dinsdae en Donderdae (18H30 – 20H00) word oefeninge gehou by TUT se sportgronde.

CA Derby Wedstryde:

Jaarliks en tradisioneel vind daar een wedstryd by Centurion Akademie plaas waarvoor almal wag en dit is tussen die twee grootste afdelings en natuurlike "vyande", nl. Natuurhuis en Sporthuis. Hierdie wedstryd lok altyd baie toeskouers en ondersteuners van beide kante en is altyd baie passievol en "very loud". Hierdie prestige wedstryd staan bekend as die Theo Schoeman Skildwedstryd en die wenner het die reg om homself as CA se Nommer 1 rugbyspan vir die jaar te verklaar.